Europa in die Amasone?
Twee dae later steek ons ’n brug oor na Frans-Guiana. Op die eerste padteken wat jy teëkom, staan: “Bienvenue en France” ( Welkom in Frankryk). Ná ’n lang stowwerige rit deur die afgeleë deel van Brasilië is ons skielik in Europa! Frans-Guiana is ’n “department” van Frankryk, nes Réunion-eiland in die Indiese Oseaan. Euro is die geldeenheid, maar dinge is 20% duurder as in Europa. En die taal? Slegs Frans, Madame! Die paaie is meestal teer en in ’n goeie toestand, maar hier’s nie veel van hulle nie. Trouens, hier is net een hoofpad van die grens af al langs die kus tot by Suriname.
Die hoofstad Cayenne is ’n verhaal van twee stede: In die moderne deel staan hoë geboue langs vinnige hoofweë terwyl die ou stad langs die kus gehawend lyk. Die stad se kuslyn gaan geen toeristepryse wen nie. Hier’s nie ’n strand nie, en die see lyk soos ’n plaasdam – plat en bruin, van al die riviere wat teen die kus uitmond.
Frans-Guiana het ’n interessante ruimtevaartgeskiedenis. Die Guianaruimtesentrum naby die dorp Kourou is een van net twee plekke in die wêreld van waar Europese lande satelliete lanseer. ’n Besoek aan die ruimtemuseum is leersaam – die Hartebeesthoek Radio-sterrewag in die Magaliesberg word in een van die uitstallings genoem.
Ons vaar ook van Kourou af met ’n seiljag na die nabygeleë Salvationeilande. Klink die naam vaagweg bekend? Dan het jy die fliek Papillon (2017) – of die oorspronklike een (1973) – gekyk oor die vreeslike tronkkampe op die eiland. Die tronk is genadiglik in 1953 gesluit.
Die eilande is mooi maar warm en bedompig. Ons koel af in die vlak water – die see is verraderlik en bekend vir sterk strome en haaie. Vele gevangenes het hier ’n watergraf gevind in ’n poging om te ontsnap.
Jy kan net per rivier by die suide van Frans-Guiana uitkom. Daar is geen paaie nie, net reënwoud. Sowat die helfte van die land word bewaar vir die inheemse volke van die Amasone. Volgens Survival International bly hier sowat 100 afgesonderde groepe in die Amasonereënwoud. Op ’n staproete een middag het ons tromslae diep uit die woud gehoor...
Suriname was eens ’n kolonie van Nederland. Ná maande van geradbraakte Spaans en Portugees, en toe Frans, is dit alte lekker om met mense in Afrikaans te gesels! Ons ry binneland toe en bring ’n paar dae deur in die Brownsberg-natuurpark in ’n bergagtige deel van die reënwoud.
Die geriewe is effens vervalle, maar jy ervaar die Amasone soos wat ’n mens dit nog net op BBC- en National Geographic- dokumentêre programme gesien het: stortreën, drukkende hitte, ’n oorvloed groen en ’n kakofonie van klanke!
Die bloedstollende gille van brulape maak ons in die oggende wakker. Ons stap deur die woud en spring in die donker riviere om af te koel. Ons bekommer ons ’n bietjie oor anakondas, want hulle bring die meeste van hulle tyd deur in die water... en piranas, vra jy? Eintlik hou dié getande menere nie ’n bedreiging in vir die mens nie. Solank jy nie saam met hulle in ’n meer vasgekeer is met niks anders om te knaag nie... >