Die lang ompad na Peru
Van Suriname af wil ons na Guyana reis en dan suid na Manaus in Brasilië, die “hoofstad” van die Amasone, en van daar af met die BR319 tot in die stad Porto Velho. Die pont tussen Suriname en Guyana het drie maande gelede opgepak, maar ons ry soontoe. Ons neem aan daar sal ’n manier wees om in Guyana te kom. Helaas, die steeds gestrande pont is die enigste manier om oor die grens te kom! Ons moet al die pad terug tot by Macapá ry – 1 300 km ver!
In Macapá laai ons die Landie op ’n pont (dié keer ’n passasierspont) vir ’n 560 km lange vaart stroomop met die Amasonerivier tot by die stad Santarém.
Anders as die vragskuit dra die pont 100 passasiers en goedere vir die mense langs die rivier. Elke nou en dan hoor jy hoe die dieselmotors spoed verminder; skielik verskyn bootjies uit die niet. Terwyl die pont nog beweeg, word allerlei handelsware op die bote gelaai: ’n stoof, koeldranke, ’n baal materiaal... Passasiers wat aanwal gaan, klim oor die relings van die pont op die dak van die bote.
Ons klim af by Santarém en kamp ’n paar dae op die nabygeleë dorpie Alter do Cháo op die oewer van die Tapajósrivier. Ons kamp onder ’n moewiese mangoboom in die tuin van ’n plaaslike gids en tuur oor manjifieke sonsondergange oor die riviereilande. In die aande wandel ons verby stalletjies en kyk hoe tradisionele dansers die strate aan die brand dans. Brasilië vier sy onafhanklikheidswording op 7 September en ons vang gees saam met die plaaslike inwoners wat saamtrek op die sandstrande van die rivieroewer.
Ons moet nog vrekver ry: 2 500 km tot by Porto Velho en dan na die dorpie Assis Brasil op die grens tussen Brasilië en Peru. Hier’s ’n paar teerpaaie, maar die grootste deel, sowat 1 500 km, is slegte grondpad – soms ry ons net 20 km/h! Maar die wete dat ons diep in ’n reënwoud reis, hou die gemoedere hoog. Die dorpies is ver uitmekaar en ook die vulstasies. As die Landie hier iets oorkom, gaan ons weke lank vir iemand wag...
In die Amazonia- nasionale park sê die plaaslike boswagters ons kan hulle klubgeriewe gebruik. Vroegoggend maak die klanke van eksotiese voëls en ape ons wakker terwyl die son stadig die mislaag oor die Tapajósrivier laat smelt.
’n Navorsingspan wat in die park werk, nooi ons na hulle uitkyktoring waar hulle suurstof-, koolstofdioksied-, reënval- en verdampingsvlakke meet. As jy hier bo staan, voel dit soos die uitkyktoring op ’n skip in die middel van ’n groen oseaan. Dis net blaredak sover as wat die oog kan sien. ’n Mens sou heeldag hier kon sit en voëls uitken, ape soek en staar oor die uitgestrektheid van die grootste reënwoud op aarde.
Dankie, Amasone, dit was ’n fees om jou te leer ken!
VOLGENDE MAAND: Vivian en Hanlie reis na Peru.