EDDIE COOMBES
Canon 550D • Canon 18-135 mm-lens
EDDIE VERTEL: Jy het geluk én geduld nodig om ’n foto soos dié te neem. Ek was in die Krugerwildtuin naby die Sirheni-kamp. Daar was twee klipspringers op die koppie – een was egter meestal buite sig onder die kremetart.
Dié een het egter op die regte tyd op die regte rots geklim. Boonop het hy geposeer – seker vyf minute lank – eers diékant toe, dan daai kant toe!
My vriend het bestuur en kon die voertuig trek soos ek dit wou hê. Ek het die kamera en lens laat rus op ’n boontjiesak wat op die venster gemonteer is vir meer stabiliteit. My sluiterspoed was 1/640ste van ’n sekonde teen f13 en ISO 800.
TOAST SÊ: Eddie het die laaste minute se daglig reg benut – dit was al amper sesuur toe hy dié wenner van ’n foto geneem het, maar deur sy ISO op 800 te stel (en sodoende die kamerasensor meer ligsensitief te maak) kon hy steeds ’n vinnige sluiterspoed gebruik.
Dié foto illustreer mooi hoe jy steeds ’n puik foto kan neem selfs al het die son gesak. Slim fotograwe weet: Dis dán die tyd om op die uitkyk te wees vir silhoeëtte.
Al die beste elemente van ’n goeie silhoeëtfoto is hier teenwoordig. Omdat die koppie hoër is as die omliggende landskap, staan dit perfek uit teen die laatmiddag se oranje lug. Nou kan die twee ikoniese silhoeëtte – die klipspringer en kremetart – tot hulle reg kom. Dit sou selfs sonder die klipspringer ’n sterk foto gewees het, maar dis die klipspringer wat dit ’n klassieke Kruger-oomblik maak. Die komposisie is perfek met die bokkie wat die hoek links onder in die foto anker, en die boom wat die res van die raam vul.
Die kersie op die koek? Die horinkies wat netjies uitstaan.