Weg!

ROEDIE ZANDBERG

IG: @roedie.zandberg • Canon EOS 1300D • Sigma 150-600 mm-lens

-

ROEDIE VERTEL: Ons was op vakansie in die Borakalalo-natuurrese­rvaat naby Brits. Ek en my dogter het dié oggend alleen gaan wild kyk terwyl die res van die gesin inkopies gedoen het.

Sy merk toe eerste op dat die kameelperd­e water mors nadat hulle gedrink het. Elkeen van hulle het só “gespuug” wanneer hulle regop kom.

Dit lyk na ’n moeisame proses om die water by te kom met daai lang nekke van hulle. Wanneer hulle drink, bly hulle lank besig. Hulle drink seker genoeg om te hou vir ’n lang tyd.

Dan gebeur dit: Hy kom regop met die kop wat swaai en water wat spuit.

Dit was vir my en my dogter ’n besonderse ondervindi­ng wat ons

vir die res van ons lewe sal onthou as iets wat ons saam ervaar het.

TOAST SÊ: As fotograaf is jy gedurig besig om besluite te neem.

Wanneer jy pas ’n reservaat binnegery het, is jy meer geneig om by ’n rooibok te stop en dit af te neem (want jy’t dalk lanklaas een gesien). Dié oomblik is op daardie tydstip belangrik. Soos die dag verloop, herkalibre­er jy.

Later is jy by die watergat en neem nie meer rooibokke af nie, want jy het al te veel gesien. Maar hier kom ’n kameelperd – kiek. Maar wag, die kameelperd gaan kom drink – dis mos die meer interessan­te foto. En jy neem dít af. So kan die proses aangaan. Moenie jou kamera wegsit en besluit jy’t nou genoeg foto’s geneem nie. Sê nou maar net ’n krokodil probeer die kameelperd aan die been gryp?

Wees altyd op die uitkyk vir unieke oomblikke waar die dier wat jy afneem iets interessan­ts doen. ’n Leeu wat lê en slaap is enkele foto’s werd – maar waarvoor jy wag, is daai oomblik wanneer hy sy kop lig en gaap dat jy net tande en keelgat sien. In Roedie se geval was die kritieke oomblik net mooi toe die water so sierlik drup uit die kameelperd se bek.

Omdat die son die kameelperd van ágter belig (dit lyk asof die ligstrale van regs bo, soos ons daarna kyk, op die dier val) veroorsaak dit ’n soort randbeligt­ing. Maar dis in die slierte water waar die son werklik skitter. Dit maak van die water – regmatig – die hoogtepunt van die foto.

Omdat Roedie en sy dogter die aksie van min of meer grondvlak (uit die voertuig) waarneem, staan die kameelperd goed uit bo die landskap. Die agtergrond is ook ver genoeg weg – en genoeg uit fokus – om nie jou aandag af te trek nie.

Roedie se 150-600 mm-lens is net die kanon wat jy nodig het vir sulke wildfoto’s. Dit werk veral goed in helder daglig, en daarom kon hy steeds ’n vinnige sluiterspo­ed (1/800ste van ’n sekonde) gebruik.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa