ONTMOET DIE SKRYWER
Die landskappe van Suid-Afrika speel ’n belangrike rol in die klassieke werke van ons bekendste skrywers – daar is die Marico van Herman Charles Bosman, die Waterberg van Eugène Marais, die Karoo van Olive Schreiner en J.M. Coetzee, en die Knysnabos van Dalene Matthee. In sy nuwe boek Place – South African Literary Journeys kyk die reisjoernalis en skrywer Justin Fox hoe hierdie landskappe deur die letterkunde
eggo. Toast Coetzer het met hom oor sy boek gesels.
Hierdie boek klink soos ’n reuse-projek – wanneer het jy daaraan begin werk?
Ek het my eerste reis vir die boek in 2008 aangepak, op Herman Charles Bosman se spoor deur die Marico. Ek het elke jaar rondom een groot reis beplan, met genoeg tyd tussen elke uittog om die volgende skrywer behoorlik na te vors deur hulle boeke te lees, asook die biografieë en kritiese werke wat oor hulle geskryf is. As ek moet skat, het ek naastenby 10 000 km op SuidAfrika se agterpaaie vir hierdie boek afgelê.
Jou boek handel oor skrywers en hulle “plekke” – die landskappe wat hulle werk inspireer. Waar is jóú “plek”?
Ek is in die Wes-Kaap gebore en het my lewe grootliks daar deurgebring – my spesiale plekke is dus meestal in daardie hoek van die wêreld. Ek dink die plekke van jou kinderdae word jou hartsplekke – ek skryf ook so in die boek.
Vir my is die Langebaan-strandmeer ’n hartsplek, veral die dorpie Churchhaven met sy uitsigte oor die turkooisblou water. So ook die eenvoudige skoonheid van die Sederberg, veral in die gebied van Driehoek, Sanddrif en Kromrivier. En die mooi strook van die Kaapse Skiereiland tussen Simonstad (waar my familie ’n 200 jaar oue vakansiehuis besit) en Kaappunt.
Is daar enige skrywers wat jy wou insluit, maar wat moes uitval?
Daar was soveel skrywers wat ek kon gebruik, maar wat ek om verskeie redes moes uitskakel. Eve Palmer se boek The Plains of Camdeboo het byvoorbeeld te veel met Olive Schreiner se The Story of an African Farm oorvleuel terwyl Alan Paton se Cry, the Beloved Country te veel rondom Johannesburg gewentel het. Ek wou oor wilde plekke skryf en skrywers soos Ivan Vladislavić en Richard Rive se werk was te stedelik.
Ek het ook die Kenia van Karen Blixen, Rwanda van Dian Fossey, Botswana van Alexander
McCall Smith, en Namibië van Christiaan Bakkes oorweeg, maar het op die einde besluit om die fokus meer plaaslik te hou.
Ek sou raai een van die uitdagings in die konseptualisering van die boek sou wees om skrywers van reg oor die land te kry om ’n verskeidenheid landskappe in te sluit.
Ja, dit was beslis ’n uitdaging. Die Karoo het ’n ooraanbod gehad met skrywers soos Etienne van Heerden, Guy Butler, Deneys Reitz, Pauline Smith, Eve Palmer, J.M. Coetzee en vele ander.
En ek het provinsies soos KwaZulu-Natal weer karig gevind in my soeke na fiksie wat die landskap op die voorgrond stel. As Craig Higginson se wonderlike nuwe roman The
Ghost of Sam Webster (Picador Africa, 2023) al gepubliseer was toe ek die boek saamgestel het, sou ek dit heel moontlik gekies het.
Jy het dikwels alleen gereis om navorsing te doen, maar soms ook saam met jou gesin – jou suster en jou ma maak ’n verskyning in die boek. Hou jy meer daarvan om alleen te reis of om iemand in die passasiersitplek te hê?
Dit hang alles van die soort reis of storie af. As ek ’n artikel vir ’n reistydskrif skryf, is dit lekker om ’n vriend of familielid saam te neem, veral as hulle bereid is om vir my foto’s te poseer! ( Ons ken die gevoel! – Red.)
Maar ek verkies om alleen te reis vir ’n boek of ’n groter projek. Dit gee my meer tyd om introspeksie te doen en om dinge in my gedagtes uit te pluis. Om saans alleen langs ’n vuurtjie te sit in die berge met ’n notaboek en ’n glas rooiwyn of twee kan (soms) interessante materiaal lewer.
Tog was my ma, Suzanne, se broer, die digter Uys Krige, vriende met Herman Charles Bosman en sy was dus die perfekte reismaat vir die Marico. En my ouer suster, die aktrise Grethe Fox, het vir my Jock of the Bushveld as kind voorgelees en dit was lekker om haar saam te neem vir die Percy FitzPatrick-besoek aan die Laeveld.
Baie van hierdie plekke het jy ’n eeu of meer ná die skrywer besoek – het die plekke baie verander of was daar verrassings, soos dat die landskappe wat Schreiner, FitzPatrick en Bosman beskryf het, dieselfde gebly het?
Soveel van SuidAfrika se stedelike en buitestedelike gebiede loop deur onder oorontwikkeling, korrupsie en verwaarlosing. Ek breek altyd weg na ons wilde plekke om my op te beur en te verkwik en dis deels hoekom ek hierdie skrywers en hierdie landskappe gekies het.
Gelukkig het baie van die landskappe nie veel oor die jare verander nie. Jy kan byvoorbeeld steeds ’n goeie idee van Schreiner se wêreld in Cradock en Gannahoek vorm; FitzPatrick se ossewaroete deurkruis steeds die Krugerwildtuin; jy kan Bosman se landskappe in die Madikwewildreservaat te siene kry; en Dalene Matthee se woude is steeds grotendeels ongerep. Dis nuttig vir die literatuurreisiger.
Stephen Watson en die Sederberg lê jou na aan die hart – hoekom?
Stephen is ’n wonderlike landskapdigter. Hy was ook een van my dosente in Engels toe ek aan die Universiteit van Kaapstad studeer het en ons het vriende geraak. Ek hou veral van sy essays, gedigte en prosa oor die Sederberg. Sy werk oor hierdie gebied is vir my die diepste en mees volgehoue ondersoek na die mag wat ’n landskap oor ’n waarnemer kan hê. Net soos Stephen het ek as kind saam met my pa in die Sederberg gestap en dit het ’n lewenslange indruk op my gelaat – en ’n besondere liefde vir die plek gekweek.