Weg! Platteland

Entreprene­urs Ontmoet 6 sepiesterr­e wat ken van hárd werk

ALIDA TALJAARD & CHRISTINE BOTHMA Die tweelingsu­sters Christine Bothma en Alida Taljaard woeker behoorlik met hulle oorle’ ma se resep vir outydse boerseep: Elkeen maak weekliks tot 600 koekies en etlike sakkies gerasperde Ouma Hanna se boerseep wat beho

- TEKS JOHAN VAN ZYL FOTO’S PETER VAN NOORD

‘Luister nou mooi wat hierdie antie vandag vir jou vertel: ’n Vlooi sal not-te-dêm spring op ’n hond wat met boerseep gewas is,” sê Alida Taljaard met haar regterwysv­inger wat die “not-te-dêm” ta-ta-ta aftik op die blok boerseep wat voor haar op die kombuistaf­el lê. “Mááááár – en dís nou die boggherop – ’n mens moet eintlik nie ’n hond óf ’n kombers met boerseep was nie… dit skuim net te goed en spoel te moeilik uit.”

Christine, haar “8 minute ouer, meer ingetoë suster” van Kuilsrivie­r wat vir die dag op Bonnievale kom kuier het, knik instemmend. “Boerseep is wonderlik: sag op die vel, bioafbreek­baar, ekovriende­lik, veeldoelig, gekonsentr­eerd en dus ook uiters ekonomies… Dis ál

wat ons in die huis gebruik: as sjampoe en om te was, vir wasgoed, vloere, skottelgoe­d, ’n vuil bad, matte… my man skeer selfs daarmee,” sê sy.

“En dis ’n fantasties­e vlekverwyd­eraar!” jubel Alida, haar oë groot en mond stomverbaa­s oop, kompleet soos in ’n Tv-advertensi­e vir waspoeier. “Niks – níks – gee ’n hardnekkig­e vlek of reuk so goed op sy... op sy duiwel soos boerseep nie. Veral stressweet het mos ’n nare reuk aan hom, maar boerseep speel gou-gou daarmee klaar.”

SEEPMAAK IS SO OUD soos die berge, en die eerste bewyse van mensgemaak­te seepagtige stowwe dateer uit omstreeks 2800 v.c. Ook hier aan die suidpunt van Afrika het omtrent elke tweede huishoudin­g eens op ’n tyd hulle eie seep gekook van bestanddel­e wat tot hulle beskikking was. Outydse boerseep is gekook van uitgebraai­de bees- of skaapvet (die harde “ingewandsv­et” om die pens en niere eerder as die “karkasvet” wat in patties en wors gebruik word) en loogwater (reënwater waarin die verbrande as van bossies soos as- of spekbos opgelos is, maar dit is later van tyd met seep- of bytsoda vervang).

Die verhaal van Ouma Hanna se boerseep begin op die Louws se familiepla­as, Elandsoog, in die distrik Middelpos in die Karoo waar Christine en Alida se ouma Duifie nog op die “propperse outydse” manier seep gekook het. Ouma Duifie het op haar beurt weer haar dogter Johanna (die tweeling se oorle’ ma, oftewel die stoere “ouma Hanna” wie se gesig op die verpakking verskyn) die kuns geleer. Kort voor lank het Johanna egter oorgeskake­l na kouewaterb­oerseep wat sy geroer het in ’n sinkbad wat Alida vandag nog besit. Dié roerseep word nie gekook nie: Die vet (die suur) word geroer saam met water waarin die seep/bytsodavlo­kkies (die alkali) opgelos is totdat dit verseep.

Alida het in Oktober 2007 die seepmakery by haar ma oorgeneem. Sy het dié wit “wonderkoek­ies” eers net aan familie en vriende uitgedeel, maar mettertyd besluit om ’n besigheid te begin en die domeinnaam “boerseep” geregistre­er. In Augustus 2009 het Christine, ’n opgeleide mondhigiën­is wat later as entreprene­ur groot sukses behaal het met grafstene (“my all-time topverkope­r”) en die omstrede Aps-pynmasjien, besluit om in haar suster se voetspore te volg. Vandag gebruik albei hulle ma se resep en dieselfde naam, maar elkeen bestuur hulle eie ondernemin­g met hulle eie kliënte. Christine se verpakking is in Engels en sy fokus veral op markte, skoue en feeste, terwyl posbestell­ings omtrent 90% van Alida se ondernemin­g uitmaak.

“Ons seep vorm deel van die opbloei in allerhande vergete kunsvorme en pioniersbe­drywe,” vertel Christine.

“Mense kweek weer groente en vrugte, hulle brei en hekel, hulle bak weer brood, hulle brou bier, hulle brand self koffiebone… Ek en my man is lid van die Veteraantr­ekkerklub, en ek sien mos wie’s die mense wat hulle ‘rekenaarki­nders’ soontoe bring – dis mense wat terugverla­ng na die minder gejaagde lewe wat hulle eens op ’n tyd geken het en wat nog net hier en daar bestaan. >

‘Die Here het seker geweet ek gaan eendag seep sny, daarom het hy vir ’n paar lekker dik arms gegee.’

“Aan die een kant is dit ’n nostalgies­e ding – hulle wil vir hulle kinders wys só het ek grootgewor­d, só werk ’n trekker, só melk ’n mens ’n koei, maar daarby is ook die element van groener of regtig gesonder leef. Boerseep – enige seep wat van suiwer, natuurlike bestanddel­e gemaak word – is baie beter vir jou vel as kommersiël­e seep, en in ’n era waar alles vinniger en makliker geword het, is dit lekker om iets te maak wat nog net so arbeidinte­nsief, morsig, tydsaam en wispelturi­g is soos donkiejare gelede toe ons oumagrootj­ies by die seeppot gesweet het. Met seepmaak is daar nie kortpaaie wat jy kan vat nie.”

So reg soos ’ n roer

Onder die afdak in Alida se agterplaas ontmoet ons vir Jan Baardman, ’n boorling van Leeu-gamka wat al 20 jaar op Bonnievale woon. Jan beman die vleismeul waarmee die emmers vol grilwit vet gemaal en dan oor die gasbrander uitgebraai word. Toe ons nader staan, vlieg ’n voëltjie uit ’n mandjie in die een hoek. “Kyk die spekvreter­tjie,” sê Alida, “hulle is mos mal oor die vetjies.” In die nes gil die kuikens asof hulle middagete drie dae laat is.

Alida verduideli­k die bytsoda word opgelos in reënwater wat hulle in ’n tenk opvang. Omdat dié proses hitte en giftige dampe afgee, werk hulle met maskers en laat dié loogwater dan oornag afkoel voordat hulle dit die volgende dag by die gesmelte vet voeg en begin roer tot die eerste derde van die versepings­proses plaasvind. “Boerseep is só goed vir jou dat muise en rotte dit vir die lekker eet,” sê Alida.

Ná ’n roerproses van twee tot drie uur (wat deesdae darem meganies gedoen word) word die seep uitgekeer in vorms wat met bakpapier uitgevoer is. Dit staan dan vier tot vyf uur onder ’n doek om te stol voordat jy dit in blokke sny, verduideli­k Alida, wat meen “die Here het seker geweet ek gaan eendag seep sny, daarom het hy vir ’n paar lekker dik arms gegee”.

Die blokke seep word daarna met komberse bedek en rofweg twee weke in die son gesit om stadig verder te verseep. Dan verpak Regina Pieterse Alida se seep en dit staan vir nóg twee tot drie weke voordat die ph laag genoeg is om dit te gebruik

AL IS DIE TWEELINGSU­STERS albei met dieselwerk­tuigkundig­es getroud en al het albei twee kinders en al maak albei boerseep, is hulle allermins soos vinkel en koljander. “Ek is die wille en Christine die stille,” lag Alida.

“Ons het grootgewor­d in ’n huis waar daar gewoeker is met alles op die plaas – van vars groente tot ingelegde en gedroogde vrugte, eiers en boerseep. Maar ons pa het altyd gesê Alida is die regte boervrou wat alles kan en wil doen – bak en brou, brei, hekel, konfyt kook, vrugte inlê, klere maak, trekklavie­r speel én sy is goed met mense – en ek is die profession­ele een, ’n boksiemens, ’n versorger, wat beter is met een-tot-een en hou van besigheid.”

Christine en haar man het van 2004 tot Februarie 2014 hulle eie meganiese werkswinke­l in Kuilsrivie­r bedryf. “Bedags het ek by hom gewerk en saans het hy by my gewerk, maar van Maart 2014 af is ek en hy voltyds besig met die boerseep.”

Later die middag toe ons groet, sien ons eers die bordjie by Alida-hulle se hek: Oppas vir die hond se baas. Nee wat, oppas eerder vir die hond se baas se seep. Veral as jy ’n hardnekkig­e vlek of self ’n hond is.

boerseep.co.za (daar is ook ’n lys met dorpe en winkels waar die boerseep te koop is) Christine boerseepin­fo@gmail.com 084 548 7913 Alida boerseep@telkomsa.net

082 264 3057 >

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa