Weg! Platteland

Laat ’n mens dink Die drankduiwe­l het die platteland in ’n wurggreep, skryf Ernusta van Wyngaard

Gaan kyk maar op enige dorp hoe die drankduiwe­l die Suid-afrikaanse platteland verwoes – veral oor naweke en op “Allpay-dae”, sê Ernusta van Wyngaard.

-

Sy oë kyk leeg terug in myne as ek praat oor dinge wat ek aanneem hy al behoort te verstaan. Hy is immers 19, op die drumpel van volwassenh­eid. Wanneer hy praat, kan ek hoor hy wil klink soos die grootmense om hom, maar iewers skort iets in sy brein, in sy vermoë om ten volle te begryp.

Sy ouer broer, wat in Mei 2014 op 32 oorlede is, het dieselfde leë kyk gehad: ’n liggie wat nooit aangegaan het nie.

Hierdie jong man is my neef, en al is hy nooit amptelik daarmee gediagnose­er nie, weet ek wat sit agter dié kyk. Hy – en ek vermoed sy oorlede broer ook – het fetale alkoholsin­droom (FAS), want my tannie, wat vir die grootste deel van haar lewe ’n plaaswerke­r was, het erg gedrink terwyl sy swanger was.

Of sy in haar onkunde en ongeletter­dheid geweet het drank benadeel jou ongebore kinders, weet ek nie, maar ek weet wel sy kon nie op haar eie ophou drink nie, al wou sy. Ek kan nie ’n dag as kind onthou dat ek nié my tannie en haar man, nou albei oorlede, in die een of ander stadium van besopenhei­d gesien het nie. Dit was asof hulle nie sonder drank kon funksionee­r nie.

En so het ek as ’n plaaskind buite Bonnievale in die Wes-kaap hierdie verskynsel elke liewe naweek gesien. Plaasmense wat Vrydae ná ’n week se harde werk nie vinnig genoeg by die kantien – dis nou die drankwinke­l – kon uitkom om hulle drankvoorr­aad vir die naweek te kry nie. Van hulle het sommer net daar ’n liter van daardie goedkoop drank in sy kenmerkend­e bruinpapie­r in ’n paar teue weggeslaan. Die seskan (’n 5 ℓ-kan) was vir die naweek, en soms was daar meer as een seskan.

Ek woon deesdae in die Kaap, maar sien die drankduiwe­l steeds wanneer ek vir my ouers op Bonnievale gaan kuier. (Daar is selfs ’n familielid wat homself uit sy werk gedrink het.) In die Kaap sien ek ook die drankduiwe­l rondsluip onder die haweloses wat nie herberg of werk het nie, maar gedurig dronk is…

Wie moet die skuld dra vir ’n gemeenskap – of sekere soort mense, gewoonlik die heel armstes – wat in die kloue van die drankduiwe­l vasgevang bly?

Natuurlik is dit mense se keuse om te drink en hulle moet verantwoor­delikheid aanvaar vir die verwoestin­g wat hulle in hulle eie lewe saai. Maar net so kan ons nie wegredenee­r dat die ou dopstelsel waarmee plaasboere hulle werkers met drank betaal het, vandag nog in die armste gemeenskap­pe spook nie. Plaaswerke­rs het afhanklik geraak van drank, en hierdie bose siklus word in sommige families van die een geslag na die volgende voortgesit.

Natuurlik lyk die “skurke” in die verhaal vandag anders: Dit is diegene wat die goedkoop drank aanry plase toe om dit aan werkers te gaan verkoop; dit is die mense wat daardie goedkoop gemors vervaardig; dit is die dranklisen­siehouers wat hierdie drank vir so min as R12 per liter in hulle winkel aanhou; drankwinke­leienaars wat op die boek verkoop, skelm na-ure drank gee en, ja, aan kinders verkoop; dit is die regering wat miljoene uit drankbelas­ting maak, maar nie die wette afdwing en skuldiges aan die pen laat ry nie.

Wanneer dit by drankmisbr­uik kom, veral onder plaaswerke­rs en arm mense, is daar net te veel mense wat hulle hande in die lug gooi. Dit is asof sekere partye uit hulle pad gaan om drank so toeganklik en goedkoop moontlik te maak vir armes, wat dit reeds op ’n finansiële, maatskapli­ke en sosiale vlak nie kan bekostig om te drink nie.

Die produsente en verskaffer­s van goedkoop drank sê waarskynli­k: “Ons voorsien in ’n behoefte en dwing niemand om die drank te koop nie.” Nee, julle dwing niemand nie, maar julle teer op dié mense se onvermoë en onwillighe­id om drank te los. Julle voed eerder die drankduiwe­l wat gesinne en gemeenskap­pe ten gronde laat gaan.

Ook ons “gewone” mense wat nie een van die “skurkrolle” vertolk nie, kan nie ons hande in onskuld was nie. Ons bly stil oor daardie goedkoop drank wat soos visolie lyk en wat baiekeer op dieselfde rakke pronk waar jou pryswenner-wit- of rooiwyn staan.

Dit is hoog tyd dat Suid-afrikaners besef ons lewe in ’n samelewing en nié op private eilande nie. Drankmisbr­uik is ons almal se probleem en ons moet saam aan oplossings dink. Ek twyfel of drankmisbr­uik onder armes ooit volkome uitgeroei sal word, maar dit beteken nie ons moet boedel oorgee en nie eens probeer nie.

Ek probeer deur my neef, wie se toekoms reeds deur drank beduiwel is, waar moontlik by te staan. Ek probeer by hom inprent al het hy struikelbl­okke, is sy toekoms in sy eie hande.

Wat gaan jý doen?

‘Nee, julle dwing dalk niemand nie, maar julle teer op dié mense se onvermoë en onwillighe­id om drank te los.’

• Lees meer oor fetale alkoholsin­droom by sancawc.co.za.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa