Kombuistuin Tamaties en eiervrug is boesemvriende in die tuin
Eiervrug en tamatie is twee van die vrygewigste staatmakers in die somergroentetuin, en met die minimum moeite kan jy kleure, geure en vorms kweek wat jy nie sommer op ’n winkelrak sal raakloop nie.
‘Die geur van ’n vars tamatie is sekerlik een van die mees stemmingsvolle geure op aarde,” skryf Marita van der Vyver in haar boek Somerkos in Provence. “Iets wat somer en sonskyn en die vrygewigheid van die goeie aarde oproep, en terselfdertyd ook hemelse genot suggereer.” En oor die eiervrug raak die kosskrywer Nigel Slater ewe liries: “The aubergine seduces. No other vegetable can offer flesh so soft, silken and tender. I fell in love at first taste,” skryf hy in Tender – A Cook and His Vegetable Patch.
Hoewel die tamatie oorspronklik van Suid-amerika kom en eiervrug van die Ooste, is albei deel van die Solanum-familie. En soos dit mos gaan met familie wat jy nie te veel sien nie, is hulle erg oor mekaar. Tamatie se soetsuur geur omarm eiervrug se sysagte tekstuur en dan dans hulle saam in ’n Suid-afrikaanse blatjang, ’n Franse ratatouille of Griekse moussaka.
Maar tot so onlangs as die negentiende eeu is dié vrolike geselskap nog as dodelik beskou. Die eiervrug het dalk weens sy verwantskap aan die gruwelike nastergal-familie as ’n “malappel” bekend gestaan. En buiten dat die skerp geur van die tamatieblare en -stingels mense wye draaie om die plant laat loop het, het ’n Franse botanis die tamatie ’n Latynse naam gegee wat as “wolfsperske” vertaal word. Albei is egter steeds as tuinplante gekweek vir die mooi.
Later het pomodoro’s, oftewel “goue appels”, ’n bousteen van die Italiaanse kookkuns geword en die Franse het “liefdesappels” die hof gemaak in al wat gereg is. Die Amerikaners kon egter tot vandag toe nog nie besluit of hulle to-may-toes of to-mah-toes in hulle ketchup gebruik nie.
As jy die geur en tekstuur van ’n tuisgekweekte tamatie of eiervrug vergelyk met dié wat jy in die winkel koop, is dit moeilik om te glo dit is dieselfde vrug. En die keuse van variëteite, vorms, kleure, geure en reuke is net soveel groter en gesonder as jy jou eie vrugte kweek.
7
Besluit wat jy wil plant
Meer as 200 tamatievariëteite is in Suid-afrika beskikbaar, en die verskeidenheid eiervrugte is ewe opwindend maar ook verwarrend. Vra jouself die volgende vrae af voor jy besluit watter variëteite jy moet plant.
• Hoeveel plek het ek?
Struiktamaties is meestal kompakte struike wat geen snoeiwerk verg nie en die minimum stutwerk nodig het. Hulle dra blomme op die punt van die ranke en dra terselfdertyd ook vrugte, waarna hulle gou agteruitgaan. Ranktamaties het ’n onbeperkte groeiwyse en lewer heelsomer lank vrugte omdat die blomme al langs die rank af gedra word en nie net op die groeipunt nie. Die rank sal dus aanhou groei totdat dit gesnoei word. Ranktamaties moet gereeld gesnoei en behoorlik gestut word. Eiervrug is ’n kompakte plant wat regop groei en sal dus goed aard in enige tuin, hoewel die soorte wat klein vrugte dra, meer geskik is vir vuurhoutjiebokstuine. Variëteite wat groot vrugte dra, moet wel gestut word.
• Smaaklike vrugte of minimum peste?
Vrugte van hibriedsaad is oor baie jare geteel om bestand te wees teen siektes, of om egalig rooi en net die “regte” grootte te wees. Dit is gewoonlik die tipe saad en saailinge wat jy by jou supermark of kwekery sal raakloop. Vrugte van erfenissaad is minder bestand teen siektes en het meestal ’n dunner skil wat hulle meer kwesbaar maak, maar dié vrugte smaak nog soos dié wat jy in jou ouma se tuin gepluk het – en ’n magdom interessante kleure en vorms is beskikbaar.
• Wat werk in my omgewing?
Gesels met jou buurman of plaaslike kwekery en hoor watter variëteite werk die beste in jou streek.
• Waarvoor wil ek dit gebruik?
Dis eintlik die heel belangrikste vraag, want as jy die regte vrug vir die regte doel kies, is jy al halfpad daar. >
stappe vir ’ n bielie- oes