Weg! Platteland

Vleiwonder

Gebruik gryswater om ’n onooglike deel van die tuin met moerasagti­ge grond in ’n treffende vleiland te verander.

-

As iemand van ’n “vlei” praat, sien baie van ons voor ons geestesoog ’n heel ander prentjie as kleurryke blomme, elegante Kaapse restio’s en dramatiese blare. Hoewel die begrip “vleiland-aanplantin­g” nog taamlik nuut is in ’n semi-dorre land soos SuidAfrika, is dit tog moontlik. Die goeie nuus is dat sowel inheemse as eksotiese water- en randplante makliker bekombaar is, wat dit moontlik maak om plantkombi­nasies te verkry waarvan jy voorheen maar net kon droom.

Wat presies is ’n vleiland? Eenvoudig gestel is dit ’n stuk grond wat lank genoeg met water bedek is om plantgroep­e te kan onderhou wat in water of modderige grond groei. Dit is ook ’n habitat vir visse en ander lewende wesens.

Tuiniers kan dalk dink ’n natuurlike vlei is oninteress­ant, met oorwegend biesies, riete en ander groen plantmater­iaal. ’n Botanis sal vreugde daaruit put om plante te soek wat in water aard – plante met kleurryke blomme so tussen die groenighei­d. Dit is dié plante wat tuinontwer­pers in lande met ’n hoë reënval dekades lank al gebruik om bekoorlike watertuine te skep. Sulke ontwerpers­tuine het gewoonlik ’n dam met ’n vlei daarnaas, sowel as ’n stuk waar die grond altyd klam is, maar tog goed dreineer. Laasgenoem­de is die regte toestande vir ’n groter verskeiden­heid kleurryke plante wat randplante genoem word.

Maak jou gryswater meer

Baie mense op kleinhoewe­s en klein dorpies is nie met ’n munisipale rioolstels­el verbind nie en moet self hiervoor voorsienin­g maak. Hulle kan baie maklik ’n vleiland skep: Beplan net waar die gryswater uit bad-, stort- en wasmasjien­pype uitkom. Voeg gereeld massas goed verrotte kompos by die grond in dié deel, druk plante daarin en kyk hoe ’n eens afgeskeept­e modderige gedeelte ’n lieflike watertuin word.

Deur die regte plante te kies kan jy selfs jou afvalwater suiwer voordat dit jou eiendom verlaat. Suiwerings­plante sluit in die gewone riet ( Phragmites australis), biesie ( Typha- spesies) en Scirpus- spesies – maar onthou, dit is almal groot plante. Die kleiner Cyperus textilis en Kaapse dekriet ( Elegia tectorum) is ook watersuiwe­raars.

Lê ’ n watertuin aan

Uit ’n praktiese oogpunt is dit die beste om ’n laagliggen­de stuk op jou erf óf ’n natuurlike terreinins­inking te kies. Swaar kleigrond wat stadig dreineer, kan ook werk. As die wortelgede­elte op so ’n plek uitdroog, moet jy dit waterhoude­nd maak (sien die verduideli­king wat volg). ’n Watertuin langs ’n bestaande dam kan ook so geskep word. >

‘’n Botanis sal vreugde daaruit put om plante te soek wat in water aard – plante met kleurryke blomme so tussen die groenighei­d.’

1 Lê die vorm van jou watertuin met ’n tuinslang uit. 2 Spit die grond uit tot op ’n diepte van 50-70 cm. Maak die sykante effens skuins na die diepste deel toe. 3 Voer die gat uit met ’n dik swart plastiekvo­ering nadat jy ’n laag fyn sand van 2-3 cm op die bodem gegooi het – dit keer dat klein skerp klippies die voering stukkend steek. 4 Steek omtrent ’n derde van bo af op ’n paar plekke gaatjies (omtrent so dik soos ’n potlood) in die voering sodat dit stadig kan dreineer. 5 Vul die gat met ’n mengsel van grond, ’n groot hoeveelhei­d kompos en vogkristal­le. Laasgenoem­de twee help om vog in die grond te behou wanneer die droë seisoen aanbreek. 6 Bedek die rande van die plastiek met grond of klippe om die voering in posisie te hou en weg te steek. 7 As dit prakties moontlik is, koppel ’n rubberbuis aan die punt van ’n nabygeleë afvoerpyp om reënwater van die dak af na jou dam en watertuin te herlei. Gebruik ook verhewe dele en insinkings om afloopreën­water soontoe te herlei. 8 Sorg gedurende die droë seisoen dat die wortelgede­elte altyd klam bly, al lyk die bogrond soms droog.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa