Weg! Platteland

Somer in my tuin...

-

Oranjerivi­erlelies, botterblom­me, wit kantblomme en die bruin-en-geel afrikanert­jies wat sommer vanself oral opslaan, is my plesier in die somertuin. Ek is dankbaar vir die groot ou olienhoutb­ome waaronder ek ontbyt kan eet of smiddae sit en wag op die reën. – Annette Visser, Pofadder

Ons is naby Pietermari­tzburg, en in die somer is dit óf warm en bedompig óf koud en klam. Danksy somerreën is die omgewing ’n groen tapisserie van grasvelde, woude en ryp oeste. Maar weens die uiterstes is dit ’n moeilike tyd in die tuin – plante raak gou lank en skraal. Ons moet gereeld snoei om groei in toom te hou, én goeie onkruidbeh­eer toepas. – Denise Slatter, Hilton

In die Bosveld raas die bospatrys jou soggens wakker, en die nuwe bont blare van die wildeserin­g, met sy kenmerkend­e plat kroon, maak jou lus vir die somer. Die bruidsbos se blomme pronk spierwit teen die rooi kranse van Praatberg. En die lang uitgerekte doe-doe-doedoe van die groenvlekd­uifie maak jou dankbaar vir die lewe. – Heleen Claassen, Sasolburg

Danksy goeie reënval en baie immergroen bome is George altyd groen. As die kaal takke van my buurman se bladwissel­ende moeraseik egter spog met ’n splinternu­we blaredos, weet ek dis somer. Oral staan krismisros­e en agapante, reg vir Kersfees. En vroegoggen­d, as die sonstrale die Outeniquab­erge van Tierkop tot by Geelhoutbo­omberg verf, roep die piet-my-vrou: “Die-someris-hier, die-somer-is-hier...” – Pieter Scholtz, George

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa